Loading

5/18/2009

Groentetuin

Of jy jouself ag as 'n groenteboer of nie, die aanplant van eetbare gewasse verskaf oneindige plesier. Die meeste eetbare plante groei maklik. 'n Mens het nie baie ruimte nodig om 'n groentetuin te maak nie en vars, gesonde groente kan selfs in houers geplant word.

LIGGING
Jy moet deeglik oorweeg waar jy jou groentetuin gaan maak. Die verkeerde ligging kan vorentoe 'n groot bron van frustrasie wees. Die ideaal is dat die grond gelyk en goedgedreineer sal wees. Swak dreinering kan veroorsaak dat die area deurnat bly, 'n toestand waarvan meeste gewasse nie hou nie. Indien dreinering 'n probleem is moet jy vir jou beddings van so 1 meter breed uitgraaf tot op 'n diepte van so 1 meter en pype lê om die water weg te lei. Lê die pype in sand en vul op met klippe gevolg deur die grond wat jy uitgehaal het. Dit is nie 'n probleem indien die beddings ietwat verhewe is nie. 'n Effens skuins wal sal ook doen, maar maak seker dat die helling oral dieselfde is. Doen opvullings teen 'n skuinste waar nodig en maak terasse. Tydens die maak van terasse moet jy die bogrond eenkant hou en egalig terugplaas wanneer jou terasse gelyk is.

Lig is belangrik vir plantontwikkeling en hoe meer son die tuinarea kry hoe beter. In blootgestelde omgewings is beskutting ook belangrik. Waar beskutting ontbreek kan jy hooggroeiende plante aanplant of tydelike windskerms oprig.

'n Groentetuin naby die kombuis is natuurlik ideaal. Dan kan jy 'n ogie oor die tuinversorging hou en altyd op hoogte wees van wat beskikbaar is vir ete.

UITLEG
Die grootte van jou tuin gaan afhang daarvan of jy net vir jou gesin gaan voorsien en of jy ook groente gaan verkoop, hoeveel water jy tot jou beskikking het en hoeveel tyd jy per dag aan jou tuin gaan bestee. 'n Tuin van 10m² kan 'n verskeidenheid en voldoende groente voorsien aan 'n gesin van vyf persone.

Jy kan of verskillende soorte groente in afsonderlike rye plant of jy kan verskillende beddings skep vir die onderskeie groentesoorte. Die tweede metode werk die beste vir groente wat gereeld natgemaak moet word. Alternatiewelik kan jy jou groente tussen jou ander plante plant en so deel maak van jou huistuin, m.a.w. 'n eetbare tuin.

Vir spasies tussen rye moet jy die pakkies saad raadpleeg. 'n Bedding moet ten minste 1 meter breed wees. Die paadjies tussen die beddings kan maar net so 30 cm wyd wees. Jy kan jou groente in rye plant binne die bedding, maar oorweeg ander patrone indien jy 'n groter opbrengs per m² verlang.

VOEDING
Groente het voedingstowwe nodig om te floreer. Hiervoor is dit nodig dat jy weet wat die vermoë is van jou grond. Kleigrond hou oormatig baie water en sandgrond hou baie min. Die ideaal is 'n sanderige leem.

Die gereelde toevoeging van organiese materie sal uiteindelik die vrugbaarheid van jou grond bepaal. Die materiaal bevat plantvoedsel en stimuleer mikroskopiese lewe wat grondvrugbaarheid verhoog.'n Gereelde toevoeging sal ook die voghouvermoë van sandgrond verhoog. In kleigrond maak dit die digte lae los.

Die volgende is belangrik in plantvoeding: 1) Stikstof, baie belangrik vir groei en vrugvorming, 2) Fosfor, vir wortelontwikkeling, 3) Kalium, werk te veel stikstof teë en is voordeling vir wortelgroentes en 4) Kalsium, vir groei.

Dieremis voorsien amper in al jou groente se behoeftes. Hoendermis is die beste, maar moet met sorg gebruik word, omdat dit baie stikstof bevat. Dit moet nooit vir wortelgewasse gebruik word nie. Na hoendermis volg skaap, perd, bees en vark. Bloedmeel en beenmeel is ook goed. Bloedmeel bevat baie stikstof en moet met sorg gebruik word. Beenmeel werk stadig, maar dit werk lank. Seewier en visafval is ook goed, maar kan nie die gewone bemesting heeltemal vervang nie.

Diegene wat kunsmis verkies moet asseblief daarop let dat dit niks vir die grond se struktuur doen nie. Grond word ook onherstelbaar beskadig deur die onoordeelkundige gebruik van kunsmis.

KOMPOS
Nie almal van ons hou hoenders aan in die agterplaas nie, daarom moet ons van kompos gebruik maak om die vrugbaarheid van die grond te verbeter. Die beste kompos is die wat jy bo-op die grond in 'n hoop maak.

Kies 'n plek in jou tuin wat redelik beskut is teen die son en wind. Dit is om te keer dat die buitenste laag van 15 cm uitdroog en jou kompos verkeerd ontbind. Die komposhoop moet ook nie in die water staan na 'n reënbui nie. Bedek jou komposhoop met swart plastieksakke indien dit vir 'n paar dae aaneen reën.

Jy kan self besluit hoe groot jou komposhoop moet wees, afhangende van die hoeveelheid organiese materiaal tot jou beskikking, maar vir die hoop om doeltreffend te werk kan dit nie kleiner as 1,2m³ wees nie. Maak elke laag op jou komposhoop nat soos dit groter raak. Die hoop moet omtrent so nat wees soos 'n uitgedrukte spons.

Enige organiese materiaal uit jou kombuis en tuin kan op 'n komposhoop gegooi word. Enige plante wat uitgetrek word weens siektes moet egter nie gebruik word nie. Die ontbinding van die materiaal in die hoop sal die temperatuur laat styg wat parasitiese organismes en onkruidsade sal vernietig.

Jou komposhoop het 'n aktiveerder nodig om die temperatuur te laat styg. Dieremis is die beste aktiveerder, maar daar is patente aktiveerders te koop by jou kwekery indien jy nie dieremis kan kry nie.

Dit duur enigeiets van 10 tot 20 weke voor jou kompos gereed is.

WISSELBOU
Wisselbou is die afwisseling van gewasse om die uitputting van die grond te voorkom. Indien jy dieselfde groente jaar na jaar in dieselfde grond plant sal die grond uiteindelik sy voedingswaarde verloor en die grondtekstuur sal agteruit gaan.

Botanies word groente in ses groepe verdeel:
Kruisblommige gewasse blomkool, broccoli, kool, rape
Solanum-gewasse aartappels, eiervrug, rissies, tamatie
Wortelgewasse beet, wortels
Cucurbita-gewasse komkommers, pampoene, skorsies
Peulgroente bone, ertjies
Ander artisjokke, aspersies, kropslaai, mielies, preie, radyse, seldery, spinasie, uie

Plante uit die onderskeie groepe moet mekaar op 'n stuk grond afwissel. Kompos word ruim ingewerk voor jy kruisblommige gewasse en solanum-gewasse plant. Kalk word voor kruisblommige gewasse en peulgroente ingewerk.

Nog 'n baie belangrike rede vir die toepassing van wisselbou is die bekamping van plae en siektes. Sommige plae en siektes kan slegs met die toepassing van wisselbou beheer word.

GEREEDSKAP
Daar is allerhande slim tuingereedskap op die mark beskikbaar. Jy kan gerus rondkyk vir die jongste tegnologie wat help met tuinmaak. Jy het net 'n paar basiese stukke gereedskap nodig vir 'n groentetuin.

graaf Vir 'n groentetuin het jy 'n spitgraaf nodig. Dit is geskik vir spit en en ligte skoffel. Hou jou graaf skoon en maak dit met 'n vyl skerp.

vurk Die tuinvurk hang langs jou graaf en het verskeie gebruik van grond lug gee tot wortelgewasse lig.

skoffel 'n Skoffel is onontbeerlik as dit kom by die verwydering van onkruid en die grond tussen die groente te bewerk.

hark Jy het 'n staalhark nodig vir die groentetuin. Dit word gebruik voor jy saai of plant.

plantstok Jy gebruik 'n stok om plantjies mee uit te plant.

tou 'n Tou is baie handig wanneer dit kom by tuinuitleg of om voortjies te maak. Span dit tussen twee stokke wat jy maklik in die grond kan steek.

tuinslang Om jou groente mee na te lei.

Indien jou groentetuin suksesvol is kan jy later daaraan dink om ook 'n kruiwa, 'n gieter en toerusting vir plaagbeheer aan te skaf.

WATER
Plante bestaan uit water. Klein saailinge sal nie drie dae sonder water hou nie. Sonder water sal jy nie met 'n groentetuin kan begin nie.

Plante verloor water deur transpirasie. Die wortelstelsel moet die watervoorraad teen dieselfde tempo aanvul as wat die blare dit verloor. Indien dit nie aangevul word nie krimp die plantweefsel en verlep die plant.

Saailinge en uitgeplante plantjies moet omtrent elke dag water kry. Gevestigde plante moet egter net water kry wanneer dit nodig is. Tydens warm weer en winderige toestande het plante meer water nodig aangesien transpirasie hoër is.

25 mm water elke 4 tot 8 dae behoort genoeg water te wees vir plante tydens warm weer, afhangende van die groentegewas en grondsoort. Groente in sanderige grond sal byvoorbeeld dubbel soveel water nodig hê. Ongelukkig moet die tuinier deur onderving leer.

Vir 'n klein tuintjie het jy net 'n gieter nodig om jou plante nat te gooi. Saailinge moet altyd met 'n roos aan die voorpunt natgemaak word. Veral in areas waar water skaars is is dit 'n baie ekonomiese manier om jou plante water te gee.

'n Tuinslang kan gebruik word met 'n sproeikop of dit kan op die grond lê vir vloedbenatting. In laasgenoemde geval moet jy die punt in 'n blikkie plaas om te verhoed dat die grond verspoel.

Sprinkelbesproeiing kan ook gebruik word, maar in sekere klimaatstoestande help dit om siektes te versprei.

Laatmiddag is die beste tyd van die dag om nat te maak, maar saailinge moet vroegoggend water kry. Saailinge sal deur die drag effens uitdroog, wat verrotting sal voorkom. Vergewis jou ook van jou plaaslike regulasie met betrekking tot die gebruik van 'n tuinslang en die tye wat jy mag natlei.

INSTANDHOUDING
Die belangrikste van jou groentetuin se instandhouding is die beheer van onkruid.

As jy nie meer die groenteplantjies in jou tuin kan sien nie moet jy weet jou instandhouding is ver agter. Die onkruid moet ook nooit kans kry om saad te skiet voor dit uitgetrek word nie. Onthou ook dat indien die onkruid baie groot word dit die groente se wortelstelsel kan beskadig wanneer dit beskadig word.

Jou skoffel is jou beste vriend vir instandhouding tussen die rye. Hou die bewerking maar vlak sodat jy nie jou groente se wortels beskadig nie. Tussen die plantjies moet jy jou hand gebruik. Met nat kleigrond moet jy net jou hand gebruik.

Te veel geskoffel is ook nie goed nie. Dit help verdamping aan.

SAAI
Onthou dat sekere saad teen skadelike swamme en bakterieë behandel word voor dit verpak en verkoop word. Dit het gewoonlik 'n pienk of rooierige kleur. Hierdie saad moet nooit vir slaaispruite gebruik word nie. Jy moet altyd sorg dat jy jou hande was nadat jy hierdie saad hanteer het.

Groentesaad word normaalweg gesaai waar dit gaan groei en geoes word. Die gemiddelde tuingrond is egter nie altyd geskik vir saailinge nie. Saadkissies of saadbeddings is meer geskik vir jou saailinge.

Die saailinge moet verkieslik in volson staan. Wanneer dit baie warm word kan jy skadunet gebruik om jou saailinge te beskerm.

Die grond van jou saadbedding moet baie los wees om wortelvorming aan te moedig en om goed te dreineer.

'n Geskikte grondmengsel vir saadkissies is twee dele tuingrond, een deel gesifte kompos en een deel growwe sand. By elke 10 liter hiervan voeg jy 30 g superfosfaat en 15 g dolomitiese kalk. Die mengsel moet deur 'n 6 mm-sif gevryf word.

Jou kissies moet dreineringsgate hê en die boom moet met dreineringsmateriaal van 2 cm dik bedek word. Die grond kan gesteriliseer word deur kookwater daaroor te gooi.

Berei jou saadbedding voor deur kompos en kraalmis in te werk. Daarby kan jy 60 g superfosfaat per vierkante meter inwerk.

Nou kan jy die bedding liggies vastrap om te verhoed dat die grond insak nadat jy gesaai het. Op hierdie stadium het jy nog twee weke oor voor jy gaan saai. Die laaste paar dae gee jy die eerste onkruid kans om te ontkiem sodat jy hulle kan vernietig. Hark dan die grond fyn en verwyder enige klippe.

Saai in vlak voortjies. Spasieer die saad eweredig en maak die voortjies 15 cm uitmekaar. Kyk op die verpakking hoe diep jy die saad moet saai.

Nadat jy gesaai het bedek jy die saad met fyn sand of riviersand en stamp dit liggies vas met die hark of graaf.

Nou moet jy die bedding deeglik natmaak met 'n fyn sproei. Die beddings moet elke dag of ten minste elke tweede dag deeglik natgemaak word.

Dit wissel van groentesoort wanneer die plantjies gereed is vir uitplanting. Raadpleeg die verpakking. As die plantjies te veel opmekaar staan moet jy dit uitdun.

Wanneer jy die plantjies uitplant moet jy hulle groei so min as moontlik onderbreek. Net voor hulle uitgeplant word moet hulle al minder water kry. Maak seker hulle staan in volson. Twaalf uur voor jy hulle uitplant maak jy egter die grond goed nat. Nadat die plante uitgeplant is moet hulle weer deeglik natgemaak word, al reën dit. Die beste tyd vir uitplant is laatmiddag. Koel, bewolkte weer is ideaal hiervoor.

SIEKTES & PLAE
Swamsiektes is 'n probleem in areas met 'n redelik hoë humiditeit. Swamme is parasitiese plantjies wat ander plante aantas. Besmette plante moet wortel en tak uitgeroei word.

Bakteriesiektes veroorsaak gewoonlik dat die plant herkenbaar verlep of kolle daarop voorkom. Bakterieë is mikroskopiese eensellige organismes. Besmette plante moet ook wortel en tak vernietig word.

Die simptome van virussiektes is vlekke, verpotting en kreukeling. Blomme van sulke plante kan kleurafwykings toon. Suiende plae soos plantluise dra meesal hierdie siektes aan jou plante oor.

Die beste manier om siektes te vermy is om gunstige grondtoestande vir jou plante te skep. Sorg dat ou plante en onkruid gereeld verwyder word. Pas wisselbou toe, gee die korrekte voeding en plant groente in gunstige seisoene.

Kouende plae veroorsaak een of ander tyd kopsere vir elke groenteboer. Dit sluit in slakke, naakslakke, snywurms, ruspes, sprinkane en verskeie soorte kewers. Hier is heelwat raad teen slakke. Raad vir ruspes.

Suiende plae sluit in plantluise, blaaspootjies, witvlieë en rooispinnekopmyte. Hier is raad vir plantluise.

Nematodes (aalwurms) is die groentetuin se grootste vyand. Soms sien jy hoe jou plante, afgesien van goeie versorging, bloot verlep of 'n slegte kleur het. Wanneer jy die plant uithaal is die wortels vervorm of vol knoppies. Dit word veroorsaak deur die mikroskopiese aalwurms. Al die plante moet verwyder word, die grond moet tot op 'n diepte van 25cm omgewerk word en dan moet die grond berook word.

Ondersoek liefs organiese middels of middels wat nie skadelik is vir mens en dier wanneer jy siektes en plae wil beheer.

5 comments :

  1. Anonymous21/6/09 08:15

    Ek wil asb vra of u vir my kan sê watter varitiet aartappel ek kan gebruik on in voertuig buitebande te plant. Ek is mal oor my groente tuin maar het beperkte plek. Het wel gehoor mense plant aartappels so, maar was nog nie suksesvol nie.
    Dankie
    Johann

    ReplyDelete
  2. Anonymous21/9/09 14:45

    Dankie, ek vind "groen vingers" baie leersaam.
    Ek het uie geplant maar dit het geen bol gevorm nie. Is dit so dat n mens die blare moet ombuig of het ek dalk die verkeerde tipe ui geplant?

    Ek wil ook graag weet watter tipe aartappel kan gebruik word om te plant in voetuig buitebande?

    By voorbaat, dankie
    Hermien

    ReplyDelete
  3. Anonymous14/5/11 08:47

    hallo - hoe maak mens vloeibare organiese plantkos?

    Gert
    gvdw@icon.co.za

    ReplyDelete
  4. Wil weet of die grond onder en om selonsroos ook giftig is,wil my groente tuin grooter maak maar het 3 groot selonroos bome in die gedeelte.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Daar is al in verskeie studies bevind dat die selonsroos se toksiese bestanddele nie vanaf die wortels oorgedra word nie, MAAR wanneer dit reen op die boom kan van die bestanddele plante in die omgewing beinvloed.

      Delete