Loading

1/03/2012

Maak tuin met Keith Kirsten

Die derde uitgawe van hierdie uiters gewilde boek is ten volle hersien. Dit bly steeds ’n praktiese geïllustreerde gids vir sowel amateur- as bedrewe tuiniers, maar dit is opgedateer om nuwe plantsoorte, wat in Suider-Afrikaanse tuine sal floreer, in te sluit.

Die meerderheid van die boek bestaan uit plantlyste met meer as 2 000 plante (bome, struike, meerjariges, klimplante en so meer). Elke plant is voorsien van ’n kort beskrywing met nuttige simbole wat die tuinier inlig oor die plant se groeiwyse en spesifieke kweekvereistes. Uitgesoekte inheemse plante en plaaslik gekweekte hibriede is, waar prakties moontlik, ingesluit, aangesien hierdie plante goed by plaaslike klimaatstoestande aangepas is en dus meer waterslim as ander eksotiese alternatiewe is.

’n Kort inleiding bespreek tuinbeplanning, -ontwerp en -instandhouding en hoe om van plae en siektes ontslae te raak. Die boek sluit af met ’n nuttige plantlys waar plante volgens hul geskiktheid vir spesifieke groeitoestande of gebruike gegroepeer is, byvoorbeeld plante wat goed in houers sal aard of plante wat gekweek word om snyblomme te lewer.

Keith Kirsten, bes moontlik Suid-Afrika se voorste tuinboukundige, is nasionaal en internasionaal bekend vir sy kundigheid, verwerf deur meer as 30 jaar se ondervinding in die bedryf.

Keith is entoesiasties, energiek en innemend en het deur sy talle boeke, tuinmaakrubrieke, radio- en televisieverskynings, praatjies, tuintoere en kursusse ’n groot bydrae gelewer tot die gewildheid van tuinmaak in Suid-Afrika. Hy is die eienaar en besturende direkteur van Keith Kirsten Horticulture International (KKHI), wat spesialiseer in die bevordering van tuinmaak en tuinplante wat plaaslik sowel as oorsee verkry word. Hy is toenemend betrokke in grootskaalse tuinboukundige projekte, soos die onlangse opknapping van die Delaire-wynlandgoed. As ’n selfverklaarde Afro-optimis wat die ‘Trots Suid-Afrikaans’-veldtog ondersteun, wend hy ook sy talente ten bate van liefdadigheid en omgewingsorganisasies, soos Food and Trees for Africa en die Green Trust, aan.

Hierdie boek is nou vir die heel eerste keer in Afrikaans beskikbaar.

Koop / Buy Maak Tuin saam met Keith Kirsten >>

Also available in English




0 kommentaar:

Post a Comment