10/12/2015

Kinderbessie / Notsung

Halleria lucida

Die kinderbessie is moontlik die boom wat die wydste verspreid is in Afrika. Jy sal dit aantref vanaf die Nyl tot in Kaapstad.

Die boom is immergroen en word tot 12 meter hoog. Die vorm wissel van struikagtig tot ’n bos, afhangende van waar dit groei.

Normaalweg is die boom se bas besig om af te dop in lang repe. Die onderste takke buig grond toe en kan self wortel skiet.

Die boom se tregtervormige blomme wissel van geel tot oranje, rooi en bruin. Dit verskyn gewoonlik in die winter. Die blomme groei een-een of in trossies in die oksels van blare of op ouer blaarlose stamme.

Die bessies is omtrent so groot soos ertjies, met lang style. Dit is vlesige bessies wat van groen na swart verander soos hulle ryp word. Voëls hou so baie van die bessies, dat die Zoeloes dit “voëlbier” noem. Dit is ook gewild onder kinders, vandaar die naam kinderbessie.

(foto Stan Shebs)

No comments :

Post a Comment